Eet Saam – Gemeente-ete

Ons het nou vir ‘n paar weke “saam met Jesus geëet.”   Sondag 28 Oktober is die afsluiting van hierdie reeks en ook die hoogtepunt! Ons gaan Sondag na die oggenddiens almal lekker saam eet in die teetuin. Ons kom so teen 11:00 almal bymekaar en dan bid die dominee en dan sê hy “op julle merke, gereed, gaan! 
 
Dit beteken dat jy genoeg kos bring vir jou huisgesin en dan pak ons alles saam op een lang tafel.  Elke persoon storm dan die tafel en skep vir jouself van die ander mense se kos en dan verkeer ons vreetsaam. 
 
So geniet ons op ‘n baie tasbare en proe-bare manier die gemeenskap van die gelowiges.  Ons word na die liggaam gevoed maar tegelyk ook in ons gees vernuwe deur die wedersydse liefde van medegelowiges.
 
Ons wil veral hê dat mense wat nog nie by die gemeente-etes ingeskakel het nie asseblief sal kom saam eet. Ons wil julle graag verwelkom en beleef as deel van die gemeente en die liggaam van Christus.


Doornfees 2018

Dit is alweer dáárdie tyd van die jaar… feestyd!  Ons vier ons jaarlikse Doornfees op Vrydag en Saterdag 3-4 Augustus.  Hierdie jaar se fees beloof om ’n besondere en baie besige fees te wees. 

Die Vrydagaand behoort aan die jongmense.  Hulle gaan “prase and worship” saam met ’n baie besonderse band! Daardie aand sal daar heerlike boereworsbroodjies te koop wees saam met koffie en koeldrank. Kom van 18:00 af reeds sam.

Saterdag is die GROOT DAG! Ons begin reeds om 07:00 met die pretdraf . ‘n Mens kan inskryf vir die 1 kilometer pretdraf (R20) of die 5 kilometer (R30) of die 10 kilometer (R50). Elke deelnemer kry ’n medalje en daar is goeie pryse vir die wenners.  Daar sal van vroeg af – vir die pretdrawwers al – “brekkie buns” en pannekoek en koffie beskikbaar wees. Die groot fees begin dan amptelik om 08:00.

Deur die loop van die dag is daar baie aanloklike aktiwiteite aan die gang.  Ons verwag 4 skoolkore wat aan ’n Doornfees koorkompetisie gaan deelneem.  Daar gaan ’n vertoning wees deur lyndansers. Daar gaan ’n Mnr en Mej Doornfees kompetisie wees in die vorm van ’n modeparade.  Daar gaan deurgaans sangitems gelewer word deur ’n sangskool in ons gemeenskap asook deur ander soliste. Kinders en grootmense  word genooi om aan ’n verskeidenheid speletjies te kom deelneem en mooi pryse te wen. Springkastele word vir die kinders gereël.

Wen ’n rooibok met die rugbyraai!  Jy kan die naweek ná die fees saam met die skenker van die rooibok plaas toe gaan om die bok te gaan jag wat hy vir jou sal skiet. Jy kan ook ’n midweek vakansie by Dikhololo wen by die fees.

Dan is daar natuurlik ook alles onder die “Basaarson” wat jy kan koop om te eet. Van pannekoek tot hamburgers tot worsbroodjies en kerrie-en-rys.  Daar is ’n teetuin met regte cappuccinos en koek en tee. Daar word tans vragte kleinkoekies en beskuit en koeksisters en koeke en poedings ens. ens. voorberei vir die fees. Kom kyk gerus ook na eienaardighede en noodsaaklikhede en onnodighede by die “wit-olifant-tafel” waar jy dalk ‘n “bargain” kan optel en na die handewerk van kunstige vroue.  Een van die hoogtepunte van die fees is ‘n “cars-in-the-park” uitstalling van veteraanmotors. Dit kan ’n ou nogal nostalgies maak oor die goeie ou dae!

Die lekkerste van die fees is natuurlik die saamkuier.  Kom vier fees saam met ons en smee nuwe vriendskapsbande en nuwe verhoudings met mede gemeenskapslede.  Sien jou dáár!



Gemeente-Bring-Ete 28 Januarie 2018

Hierdie Sondag (soos in môre!) is dit weer tyd vir ons as gemeente om saam die tafel te dek en lekker saam te eet. 

Onthou hoe dit werk: elke gesin bring so ‘n “eenskottel”-gereg (net genoeg vir jou gesin, jy hoef nie vir ‘n army kos te maak nie!) en dan pak ons al die kos op ‘n groot tafel en almal eet saam van alles – daar bly gewoonlik nog oor, jy sal sien!
 
Dit kan regtig enige gereg wees wat vir jou lekker is.  Pastas, bredies, paptert, boboties, enige ding. Of ‘n lekker slaai kan ook werk. 
 
Ons kuier al van na die oggenddiens af saam en dan skep ons so teen 11:30 op.  
 
Kom geniet die ete saam met ons!


Kerssangfees – 26 November 2017

Eerskomende Sondag vier ons ons jaarlikse Kerssangdiens.  Hierdie jaar kombineer ons dit egter met ’n heerlike saam-eet en saam-kuier na die tyd.

Ons nooi jou daarom om Sondag oggend 09:00 by die kerk op te daag met Oupa en Ouma en broer en suster en al jou vriende en vriendinne en kinders en kleinkinders. Ons gaan Kersfeesliedere sing en luister na voolesings van Skrifgedeeltes en mooi kersfeesgedigte. Ons hoop om ’n heerlike Kersfeesatmosfeer  te skep wat ons lank kan onthou.

Maar dan is ons nie klaar nie. Julle kan na die kerssangdiens gou huis toe gaan en die kos gaan klaar maak en dan kom almal terug kerk toe met genoeg kos vir jou gesin… en natuurlik ook vir die Oupa en Ouma en broer en suster en al jou vriende en vriendinne en kinders en kleinkinders wat jy saambring.  Dan pak ons al die kos op die tafels en 11:30 vat jy jou bord en skep vir jou van al die ander mense se kos en hulle skep van jou kos en so vier ons saam ’n heerlike fees wanneer ons mekaar se kos saameet.  Ons sal met die dominee reël om 11:30 te bid en dan is dit “op julle merke… gereed… eet!”

Kom deel asseblief in hierdie heerlike gemeenskap van gelowiges …. veral julle ouens wat nog nie saam met ons geëet het nie.