Eet Saam – Gemeente-ete

Ons het nou vir ‘n paar weke “saam met Jesus geëet.”   Sondag 28 Oktober is die afsluiting van hierdie reeks en ook die hoogtepunt! Ons gaan Sondag na die oggenddiens almal lekker saam eet in die teetuin. Ons kom so teen 11:00 almal bymekaar en dan bid die dominee en dan sê hy “op julle merke, gereed, gaan! 
 
Dit beteken dat jy genoeg kos bring vir jou huisgesin en dan pak ons alles saam op een lang tafel.  Elke persoon storm dan die tafel en skep vir jouself van die ander mense se kos en dan verkeer ons vreetsaam. 
 
So geniet ons op ‘n baie tasbare en proe-bare manier die gemeenskap van die gelowiges.  Ons word na die liggaam gevoed maar tegelyk ook in ons gees vernuwe deur die wedersydse liefde van medegelowiges.
 
Ons wil veral hê dat mense wat nog nie by die gemeente-etes ingeskakel het nie asseblief sal kom saam eet. Ons wil julle graag verwelkom en beleef as deel van die gemeente en die liggaam van Christus.


Lofoffer 2018

Ek sien ander gemeentes praat van Dankoffermaand of Geloofsoffermaand of Oesfees…. Mooi beskrywings vir ‘n  besondere geleentheid in die kerk om ons dankbaarheid aan die Here te wys vir al sy goedheid en guns en liefde en genade en vir die feit dat Hy ons lewe in stand hou.
 
Ons is so geneig  om te fokus op die goed wat ons nié het nie en sien dan nié die seëninge wat ons wél het nie.  Kom ons sê hierdie maand vir die Here dankie vir alles waarmee Hy ons seën en dra ruim by vir die werk wat die gemeente doen om die grootste seën van alles: Die enigste Waarheid, “Die Evangelie” in hierdie wêreld te dra (1 Tim 3:15)


Ons kyk Rugby!

Goeiedag vriende
 
Ons nooi graag al die lidmate wat nie ‘n kaartjie kon kry vir Saterdagmiddag se rugby op Loftus nie, om saam met ons te kom rugby kyk op die groot skerm in die teetuin hier by die kerk.  Bring jou drinkdingetjie en biltong en droëwors en tjippies en kom kuier en kyk saam na die wedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks… dan skree ons saam met mekaar vir/op die Bokke… Kom ons kyk wie vloek die minste…he he he 
 
Kom enige tyd van 16:00 af dan kuier ons solank en 17:00 begin die game… dan raak ons ernstig!!
 
Sien jou daar


Doornfees 2018

Dit is alweer dáárdie tyd van die jaar… feestyd!  Ons vier ons jaarlikse Doornfees op Vrydag en Saterdag 3-4 Augustus.  Hierdie jaar se fees beloof om ’n besondere en baie besige fees te wees. 

Die Vrydagaand behoort aan die jongmense.  Hulle gaan “prase and worship” saam met ’n baie besonderse band! Daardie aand sal daar heerlike boereworsbroodjies te koop wees saam met koffie en koeldrank. Kom van 18:00 af reeds sam.

Saterdag is die GROOT DAG! Ons begin reeds om 07:00 met die pretdraf . ‘n Mens kan inskryf vir die 1 kilometer pretdraf (R20) of die 5 kilometer (R30) of die 10 kilometer (R50). Elke deelnemer kry ’n medalje en daar is goeie pryse vir die wenners.  Daar sal van vroeg af – vir die pretdrawwers al – “brekkie buns” en pannekoek en koffie beskikbaar wees. Die groot fees begin dan amptelik om 08:00.

Deur die loop van die dag is daar baie aanloklike aktiwiteite aan die gang.  Ons verwag 4 skoolkore wat aan ’n Doornfees koorkompetisie gaan deelneem.  Daar gaan ’n vertoning wees deur lyndansers. Daar gaan ’n Mnr en Mej Doornfees kompetisie wees in die vorm van ’n modeparade.  Daar gaan deurgaans sangitems gelewer word deur ’n sangskool in ons gemeenskap asook deur ander soliste. Kinders en grootmense  word genooi om aan ’n verskeidenheid speletjies te kom deelneem en mooi pryse te wen. Springkastele word vir die kinders gereël.

Wen ’n rooibok met die rugbyraai!  Jy kan die naweek ná die fees saam met die skenker van die rooibok plaas toe gaan om die bok te gaan jag wat hy vir jou sal skiet. Jy kan ook ’n midweek vakansie by Dikhololo wen by die fees.

Dan is daar natuurlik ook alles onder die “Basaarson” wat jy kan koop om te eet. Van pannekoek tot hamburgers tot worsbroodjies en kerrie-en-rys.  Daar is ’n teetuin met regte cappuccinos en koek en tee. Daar word tans vragte kleinkoekies en beskuit en koeksisters en koeke en poedings ens. ens. voorberei vir die fees. Kom kyk gerus ook na eienaardighede en noodsaaklikhede en onnodighede by die “wit-olifant-tafel” waar jy dalk ‘n “bargain” kan optel en na die handewerk van kunstige vroue.  Een van die hoogtepunte van die fees is ‘n “cars-in-the-park” uitstalling van veteraanmotors. Dit kan ’n ou nogal nostalgies maak oor die goeie ou dae!

Die lekkerste van die fees is natuurlik die saamkuier.  Kom vier fees saam met ons en smee nuwe vriendskapsbande en nuwe verhoudings met mede gemeenskapslede.  Sien jou dáár!



R100 Sondag – 27 Mei 2018

Ons het hierdie afgelope tyd met die vakansie en al die langnaweke lekker vakansie gehou en gerus en vir seker het ons dit nodig om te rus. Ds Gerrie het mos by die Pinkster gesê dis een van die aspekte van die “Jesus-lewe” – om te rus!  Die nadeel daarvan vir ons gemeente is dat ons vanweë die afwesigheid van ons lidmate ernstig agter geraak het met ons inkomste en daar is ’n klompie rekeninge en salarisse wat ons nie kan betaal nie. Ons het al in die verlede sulke R100 Sondae gehou en dit het ons baie gehelp om weer ’n bietjie by te kom.
 
 

Daarom ons vriendelike versoek aan u elkeen om Sondag (oormôre) asb ’n R100 ekstra (of meer as die Here dit op jou hart lê) saam te bring na die erediens toe. Dis nou bo en behalwe jou gewone dankoffer.  Ons moet almal saamwerk om ons gemeentehuis en “operasionele sentrum” in stand te hou sodat ons effektief kan bly in die gemeenskap waar die Here ons wil gebruik.

Groete en seëninge vir elkeen

Pieter Viljoen



Gemeentejol 21 April 2018

Op die 21ste April 2018 hou ons een groot Gemeentejol!  Dit gaan ‘n fees wees wat jy nie wil mis nie.  Behalwe vir die potjiekos en pannekoek en al die ander lekker dinge wat ons gaan eet, het ons ook ‘n spesiale gaskunstenaar: die talentvolle Steff Botha!
 
 
As jy dalk nog ‘n driepoot potjiekospot het wat jy vir ons kan leen of self gewillig is om saam te kom potjiekos maak sal dit vir ons baie lekker wees.  Ons het nog so paar potte nodig, so kontak groot seblief die kerkkantoor as jy kan help.
 
Die kaartjies vir die Potjie en vir Steff Botha kos R60 vir volwassenes en R30 vir laerskool kinders. Kontak gerus vir Nicolene by die Kerkkantoor by 012 547 1456 om jou kaartjies te bespreek.
 
Bring jou gesin, familie, oupa en ouma en pelle en jou bure en kom sing, speel, kuier en eet lekker saam met ons!
 
 


Simple Church T-Hemp

Hierdie Sondag, 18 Februarie 2018, is jou laaste kans om vir jou ‘n ‘Simple Church’ T-hemp te bestel. Kom maak jou bestelling na die oggend- of aanddiens. Dit kos net R150 vir ‘n hemp. Don’t miss it!
 


Gemeente-Bring-Ete 28 Januarie 2018

Hierdie Sondag (soos in môre!) is dit weer tyd vir ons as gemeente om saam die tafel te dek en lekker saam te eet. 

Onthou hoe dit werk: elke gesin bring so ‘n “eenskottel”-gereg (net genoeg vir jou gesin, jy hoef nie vir ‘n army kos te maak nie!) en dan pak ons al die kos op ‘n groot tafel en almal eet saam van alles – daar bly gewoonlik nog oor, jy sal sien!
 
Dit kan regtig enige gereg wees wat vir jou lekker is.  Pastas, bredies, paptert, boboties, enige ding. Of ‘n lekker slaai kan ook werk. 
 
Ons kuier al van na die oggenddiens af saam en dan skep ons so teen 11:30 op.  
 
Kom geniet die ete saam met ons!


Gebed is nie my “grocery”-lysie nie… regtig nie!

Mense is so op hulleself ingestel… eie behoeftes en eie eer en eie posisie. Eiebelang en gierigheid is die beste eienskappe van die mense van ons dag… selfs van baie Christene! Kyk maar hoe gewild het die sg. “voorspoedteologie” geword. Kerke wat belowe dat jy ryk sal word as jy net genoeg “saai”,  se lidmaatgetalle styg drasties en de pastore se karre en huise word al duurder en mooier.

Die rol wat gebed in mense se lewe speel word dan ook ingespan om by te dra tot die vermeerdering van voorspoed. Gebed word vir my die manier/ hefboom waarmee ek God in beweging kry sodat Hy die dinge kan gee wat ek graag wil hê. Maar gebed is nie die lysie  wat ek elke dag voor die Here gaan aflees, sodat Hy in my behoeftes moet voorsien nie. “Prayer is not asking. Prayer is putting oneself in the hands of God, at this disposition, and listening to his voice in the depths of our hearts.” (Sister Teresa)

Gebed is nie ’n hefboom waarmee ek God se hand in beweging kan bring nie… of God se goddelike mag kan vrystel sodat Hy die dinge kan doen wat dit vir my lekkerder sal maak in die wêreld nie. Ek kom op ’n boek van Charles Capps af met die titel: “Releasing the ability of God through prayer”….eish!  God is m.a.w. ’n potensiële bron van krag en mag en wonderwerke waarby ek oneindig kan baat, as ek hom net aan die gang kan kry.  Sy hande is vasgebind totdat ek “op die regte manier” bid. Dan kom sy hande vry en dan help Hy my met oorvloedige seën. Maar sonder my gebede kan Hy eintlik niks doen nie.

Wat ’n mens dus nodig het om te doen is om ’n deeglike studie van gebed te maak in jou Bybel en elke moontlike voorwaarde vir gebedsverhoring na te speur sodat jy seker kan maak dat jou gebede verhoor word… of ten minste ’n beter kans kan hê vir die verhoring van jou gebede. Capps stel die volgende “wenresep” voor: Om jou gebede te “laat werk”:

  • Bid in geloof
  • Vergewe almal teen wie jy iets het
  • Bid die Woord
  • Spreek lewe en geloof… Anders sal jou gebed nie werk nie
  • Bid in die naam van Jesus
  • Bely al jou sonde… en as dit nog nie werk nie ook die sonde van jou ouers en grootouers, ens.
  • Bid vir jou vriende (Job).. Dan sal die Here jou ryk maak.

 Daar sal sekerlik nog baie sulke “voorwaardes” opgediep kan word maar die belangrike is dat jy moet aanhou om die dinge uit die weg te ruim wat sal verhoed dat God jou sal verhoor… dat God nie in staat sal wees om jou te hoor nie. Jy moet aanhou totdat daar ‘n “deurbraak” kom.  As jy dit van jou kant af reg doen is God “verplig” om jou gebede te verhoor… jy het dan jou kant gebring en nou móét Hy sy kant bring…. sjoe! Dis amper laster!

Paulus sê:  Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.  7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. (Fil 4:6-7)… sien jy? Jy mag jou begeertes deur gebed en smeking en danksegging by God bekend maak!  Maar dan beteken dit nie Hy gaan jou alles gee wat jy graag wil hê nie.  Nee… die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou… Al gee Hy nie wat jy vra nie, verhoor hy tog jou gebed want hy gee die vrede in jou hart sodat jy sy antwoord in vrede en met tevredenheid aanvaar… selfs al is dit die teenoorgestelde van jou begeerte. Die Here het jou só lief dat Hy vir jou gee wat vir jou die beste is.  Gee jou daarom self oor aan sy genade en vertrou Hom wat die getroue verhhorder van ons gebede is.

 

“Gebed is nie ‘n middel waardeur ek God probeer beheer nie; dit is die manier waardeur ek myself in ‘n posisie plaas waar God mý kan beheer.”  – Charles Allen



Ons gaan nie eendag hemel toe nie… maar ons gaan!

Ons het so gewoond geraak om die vraag te vra: “Gaan jy eendag hemel toe as jy doodgaan?”  Eendag…. ‘the pie in the sky when you die….’  Maar wat van vandag? Is die werk van iemand wat die Here ontmoet het om nou die hele tyd net te wag totdat die “eendag” aanbreek? Miskien is dit nodig om net ’n klompie terme van nader te bekyk, sodat ons die wanbegrippe kan hokslaan.

  1. Hemel: As die Bybel van hemel praat is dit in die milieu van die wêreldbeeld van die voorwetenskaplike tyd. Die aarde was vir hulle plat en die hemel het uit drie vlakke bestaan.  Die eerste hemel is waar die wolke is en die voëltjies vlieg.  Die tweede hemel is die hemelkoepel of uitspansel waar die son en maan en sterre is. Die derde hemel is anderkant die sterre waar God is.  Daar staan die troon van God en vandaar heers Hy as koning oor die heelal.  Uit die hemel kom God se Woord tot die profete en uit die hemel kom Jesus na die aarde toe. Joh 3:13 – 16 13 Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens.  14 Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word,  15 sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê. 16 «God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 
  2. Ewige lewe: Uit die aangehaalde teks hierbo is dit ook duidelik dat daar ’n verskil is tussen “hemel” en “ewige lewe”.  Ons gaan dus nie hemel toe nie, ons verkry die ewige lewe.  Dis amper asof ’n mens kan sê: Die hemel kom na ons toe. En dit gebeur nie “eendag” wanneer ons dood gaan nie! As jy vandag ’n gelowige is het dit reeds gebeur. In Joh 5:24 sê die skrywer:  «Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.
  3. Ewig: Ons leef in liniêre tyd. Ons praat van die begin van ’n liniêre tydlyn en die einde van die tydlyn… die verlede en die hede en die toekoms. As ons dan van ewigheid praat val ons in die strik om uit ons beperkte siening van tyd oor die ewigheid te praat. Ons wil sê dat ewigeid beteken dat daar nie ’n einde aan tyd sal wees nie. Terwyl ‘ewigeid’ baie meer beteken as dit: Dit is allesomvattend.  Dit het nie ’n begin of einde nie.  Dit is die hele tyd/altyd teenwoordig.  Daar was nooit ’n tyd dat die ewigheid nie bestaan het nie en daar sal nooit ’n tyd wees dat dit nie daar sal wees nie. Dit is hoe God bestaan – van ewigheid tot ewigheid, en Hy kan vandag enige tyd in die verlede teenwoordig wees soos wat Hy nou op hierdie oomblik enige tyd in die toekoms teenwoordig is of soos wat Hy nou in die hede kan ingryp.  Aan hierdie ewigheid het gelowiges vandag reeds deel. En niks sal ons weer van Hom kan skei nie.  Die uiteinde van hierdie ‘ewige lewe’ gee inderdaad aan ons die voorreg om tot in alle ewigheid in God se teenwoordigheid te lewe…. in die nuwe Jerusalem.
  4. Die Nuwe Jerusalem: In Openb 21 skryf Johannes: `Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het waarin die sewe laaste plae was, gekom en met my gepraat. «Kom,» het hy gesê, «ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.»  10 Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na ‘n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom11 Die stad het die heerlikheid van God: sy glans is soos dié van die kosbaarste edelsteen, soos ‘n kristalhelder opaal... dit is dus nie ’n fisiese stad nie, dis die bruid van Jesus …. die kerk!  Dit is ek en jy wat aan die Here behoort. En die beskrywing van die prag en glorie van die stad is die vlekkeloosheid en heiligheid van die gelowiges wat God vir Homself verkry het deur ons skitterskoon te was in die bloed van Jesus Christus.
 
Aan dáárdie heerlikheid het ek en jy deel.  Dit beteken ons is nuwe mense.  Ons gaan in alle ewigheid nooit sterf nie… Toe sê Jesus vir haar: «Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook;  26 en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. (Joh 11:25-26)… en ons vandag reeds daaraan deel. Daarom leef ons anders.  God sien ons as heilig en onberispelik. Dit is hoe Hy ons gemaak het deur ons skoon te was in die bloed van Jesus. (vgl Efes 1v4) Nou is die verantwoordelikheid op elkeen van ons, geredde mense, om anders te lewe in hierdie wêreld. Mense moet by ons die ewige lewe kan sien in ons oë en in ons dade, en hulle moet dit kan hoor in ons woorde, sodat hulle ook sal verlang daarna om die ewige lewe te hê. Sodat hulle, soos ons vandag, as kinders in die huisgesin van God kan woon en daarom kan staatmaak op die versorging van die goeie Vader van die huisgesin.  Dit is vandag die voorreg van mense wat reeds die ewige lewe het!