|
Leef Anders is 'n beskrywing van die wyse waarop ons as Christene in Doornpoort daarna streef om ons geloof op alle terreine van die lewe uit te leef. Waar die meeste kursusse wat ons in die verlede in die gemeente aangebied het ten doel gehad het om aan ons spesifieke vaardighede oor te dra (bv. hoe om met kinders te werk) wil die benadering fokus op wie ons as Christene behoort te wees waar ook al ons onsself bevind. 'n Eenvoudige verduideliking van Leef Anders is om op die verskil tussen spesifieke rekenaar sagteware (bv. 'n woordverwerking- of grafieseontwerpprogram) en die bedryfstelsel van die rekenaar self (bv. Windows 7 of Vista) te wys. Waar die verskillende soorte sagteware 'n rekenaar in staat stel om spesifieke take te verrig, skep die bedryfstelsel daarvan die platform waarop die verskillende rekenaar programme werk. Die doel van Leef Anders is om die geestelike bedryfstelsel van Doornpoortgemeente te wees. Waar die spesifieke bediening van die gemeente geanker is in die verskillende gawes van die Gees (1 Kor. 12:7-11), waarvan alle gelowiges van die Gees spesifiekes ontvang, maar geeneen almal nie, is Leef Anders 'n uitdrukking van die vrug van die Gees wat in alle gelowiges se lewens volledig sigbaar moet wees (Gal. 5:22-23 - Let op dat Paulus net van een vrug praat, wat uit verskillende handelinge bestaan, en nie van verskillende vrugte nie.). In lyn met Jesus se samevatting van wat God se wil vir ons lewens is, wil ons as gemeente die Here met ons hele hart, krag en verstand dien in al die verskillende verhoudings waarin Hy ons geplaas het. Ons staan naamlik elkeen in die lig van Lukas 10:27 in 'n verhouding met God, ander, ons omgewing en met onsself. Om as 'n volgeling van Christus te leef, is dan ook om te leef volgens die voorbeeld wat Jesus vir ons ten opsigte van elkeen van die verskillende verhoudings gestel het. Dit help byvoorbeeld nie ons het net 'n goeie verhouding met ons medemens nie, maar verwaarloos ons omgewing nie. Of ons het God lief nie, maar ons verwens ons naaste nie. Al die verhoudings waarin ons staan is vir God belangrik. Elkeen van die verhoudings benodig daarom 'n spesifieke ingesteldheid wat ons help om intensioneel daarmee om te gaan. Om intensioneel te leef vra dat ons 'n eenvoudige beeld moet kan vorm in ons gedagtes van wat dit beteken om in die regte verhouding met God, onsself, ander en die omgewing te leef. Die vyf beelde wat ons as gemeente wil gebruik vir die verskillende verhoudings, is op die voorblad van hierdie jaarprogram. Dié verskillende beelde poog om te verwoord hoe ons lewens as Christene vandag behoort te wees in terme van die verskillende verhoudings waarin ons staan. In kort hoe ons anders kan leef. Om ons te help om anders te leef het elkeen van die verskillende verhoudings 'n verskeidenheid van geloofsgewoontes wat ons help om te groei in die uitleef van ons geloof, asook enkele mylpale wat ons help om ons groei te beoordeel. Van die geloofsgewoontes is eeue ou terwyl sommige weer spesifiek vir die program ontwikkel is.
|