|
Die inwyding van ons kerk op 23 Augustus 1998 was [vanoggend is] die verwesenliking van 'n droom wat teruggaan tot selfs voor ons afstigting van Wonderboomgemeente. Reeds tydens 'n wykskerkraadsvergadering op 22 Junie 1989 is besluit om ondersoek in te stel na die aankoop van grond om 'n kerk op te bou in Doornpoort. Dié grond (waar die huidige Lynette- en Juanpark gebou is) was egter vir die gemeente onbekostigbaar. Die droom van 'n eie kerkgebou is egter nie laat vaar nie en op die 5de November 1990 het die Boukommissie van Doornpoortgemeente sy eerste vergadering gehou. Die nuwe kommissie het sy werksaamhede begin deur 'n ondersoek te doen na 'n geskikte erf vir 'n toekomstige kerkgebou. Reeds in 1990 was dit duidelik dat die huidige erf (toe 'n "park") die mees geskikte sou wees in terme van grootte, ligging en toeganklikheid. Dit sou egter vier jaar van intensiewe onderhandelings met die ontwikkelaars van Doornpoort neem voordat die gemeente aan die einde van 1994 die erf teen 'n bedrag van R264 200 kon aankoop. Die eerste tree na die verwesenliking van die droom van 'n eie kerkgebou is deur die gemeente danksy die Here se genade en sorg geneem. In dié tydperk is verskillende opsies ten opsigte van 'n toekomstige kerksentrum oorweeg en laat vaar as gevolg van die geweldige koste daarvan. Dit het onmoontlik gelyk om 'n kerkgebou vir minder as R1.4 miljoen te bou. Die droom van 'n eie kerkgebou het gedreig om net 'n droom te bly indien iets drasties nie sou gebeur nie. Op 26 Julie 1995 het die voorsitter van die Boukommissie, br. Ben Swartz, 'n spesiale vergadering van die kommissie langs sy bed in die intensiewesorgeenheid van Medforum-hospitaal belê. Tydens dié vergadering is besluit dat 'n ondersoek na die daarstelling van die mees bekostigbare aanbiddingsruimte so spoedig as wat moontlik is, geloots moet word. Met dié inisiatief is nuwe dryfkrag en momentum aan die gemeente se bouplanne gegee. Op aanbeveling van die Boukommissie besluit die kerkraad van Doornpoortgemeente dan ook op 4 September 1995 om toestemming van die Ring van Wonderboom te verkry vir die oprigting van 'n kerkgebou van ongeveer 800m2. Na deeglike oorweging is dié versoek egter 'n jaar later deur die Ring op 17 September 1996 afgekeur. Die rede vir die besluit was glashelder: Doornpoortgemeente kon nie bekostig om te bou nie.
|