|
Ons jaar begin daarom nie op 1 Januarie nie, maar vier Sondae voor Kersfees wanneer Advent, die tyd van verwagting, ’n aanvang neem. Die res van die kalender draai dan om drie feeste, naamlik Kersfees, Paasfees en Pinksterfees. Van almal is Paasfees die hoogtepunt, want dan herdenk en vier ons die opstanding van Christus uit die graf. Dit is vir ons so belangrik dat ons elke week begin met Sondag, wat ‘n viering van die opstanding in die kleine is.
Let daarop dat daar vir elkeen van die drie feeste ’n tyd van voorbereiding is en ná die fees ’n tyd van besinning. Advent berei ons voor vir Kersfees en in die tyd ná Epifanie dink ons na oor die betekenis van Christus se koms na die aarde. Lydenstyd berei ons voor vir Paasnaweek en dan dink ons in Paastyd weer na oor die implikasies van die opstanding in ons lewens. Die tien dae tussen Hemelvaart en Pinkster berei ons voor vir Pinksterfees. Daarna volg Koninkrykstyd waarin ons die opdrag het om die gawes van al drie die feeste te gaan uitleef in die wêreld.
|