Oggend Erediens – Sondae @09h00

Sondae-oggende om 9 uur kom ons gemeente bymekaar vir ons weeklikse erediens. Kom sommer al bietjie voor nege om ‘n koppie koffie of tee te kom drink en stel daai skaapboud in die oond se tyd bietjie later want ons kuier na die diens ook.
 
Kom soos jy is, soos jy gemaklik voel. Hier moet jy kan tuis voel en jou skoene uitskop.  Ons wil ‘n tuiste vir al God se kinders wees. Kom wees jouself hier.
 
Ons loof die Here met alles wat ons is (Ps 103:1). Die eerste deel van ons diens word gewy aan Lofprysing en Aanbidding wat begelei word deur ons passievolle musiekspan – mense met ‘n hart vir Worship. Ons het nie ‘n orrel nie – kitare, dromme, basviole, fluite, klaviere, ens. maak beurte om Hom te loof met alles wat ons het!
 
Kreatiewe prediking wat erns maak met die historiese konteks van die Bybel is aan die orde van die dag. Die Bybel bly vir ons die hoof bron – dit is hoe die Here gekies het om Homself aan ons te kom openbaar. Die Evangelie – die Blye Boodskap van God se lewensveranderende liefde en genade staan sentraal!
 
Ons wil ons lewens laat vorm, ons denke laat vernuwe deur die Woord.  Daarom soek ons saam na God se leiding in sy Woord ook vir ons gemeente.  As jy na van die preke wil luister, gaan loer bietjie in op ons Media bladsy.
 
Tydens die erediens hou ons ook Kinderkerk vir kleuters tot Gr. 6’e, waar hulle ook saam Lofprysing doen en uit die Bybel leer. Besoek gerus ons Jeugbediening bladsy vir meer inligting.