|
Die woord Epifanie dui op die verskyning of manifestasie van God in die wêreld. Epifanie was 'n ou Oosters-kerklike fees waartydens die geboorte en doop van Jesus gevier is. In werklikheid is Kersfees en Epifanie nie twee afsonderlike feeste nie, maar die feit dat Kersfees 'n Westerse en Epifanie 'n Oosterse oorsprong het, het twee afsonderlike tradisies rondom Kersfees en Epifanie tot gevolg gehad. In wese het Kersfees en Epifanie ten nouste met mekaar te make, en daarom word die Kers- en Epifanietyd as aaneenlopend beskou vanaf 25 Desember (die Westerse datum vir Kersfees) tot ná 6 Januarie (die datum vir Epifanie). Epifanie is waarskynlik die oudste van die twee feeste, maar is, soos Kersfees, eers sedert die vierde eeu werklik gevier. In die geheel word daar in die tyd ná Epifanie (tot die begin van Lydenstyd) gekonsentreer op Jesus se lewe hier op aarde totdat Hy die lydenspad begin loop het.
Wat vier ons in Epifanie en die tyd daarna? Vanuit die Oosters-kerklike oorsprong van Epifanie is hierdie feestyd mettertyd onderspeel in die Westers-kerklike wêreld en bloot gereduseer tot die bepaalde betekenis wat aan die besoek van die wyse manne geheg is. Sommige woordeboeke verklaar nou nog Epifanie met die woord “Driekoningsfees”. In werklikheid is die menswording van Christus die kern waaroor dit in Epifanie (en natuurlik Kersfees) gaan. Die eerste Sondag ná Epifanie fokus op die doop van Christus en tydens die Sondae daarna word die klem gelê op wat Jesus hier op aarde geleer en gedoen het. Die tyd na 6 Januarie word dus gewy aan die bestudering en viering van die Een wat onder ons kom woon het. In hierdie tyd word dikwels klem gelê op die bestudering van die Bergrede en daarom dink Protestantse kerke tydens Epifanie veral na oor die sosiale implikasies van Jesus se lewe en leringe. Epifanie word afgesluit met Verheerlikingsondag wanneer Jesus se verheerliking op die berg herdenk word. Verheerlikingsondag lei die geboorte in wat sou lei tot Jesus se kruisdood en opstanding.
|