Afkondigings

Bly op hoogte van die nuutste nuus in die gemeente.
 
 

Ds. Cornel Afskeidspreek 25 Junie 2017

Ds. Cornel het die beroep aanvaar na HoutbaaiGemeente in die Kaap. 
 
Ons neem hierdie Sondag 25 Junie 2017 tydens die oggenddiens afskeid van hom en sy gesin.  Jy word hartlik uitgenooi na hierdie geleentheid waar ons lekker gaan saam sing en hy ook sy afskeidspreek sal lewer.  Na die diens kuier ons ook in die teetuin saam rondom ‘n koppie koffie of tee en natuurlik ‘n paar koeksisters (en ander verversings).
 
Ds. Cornel en sy gesin, Alet, Pieter en Francois, was vir 5 jaar en 7 maande deel van die Doornpoort familie.  Wat begin het as ‘n 50% Senior Jeugpos het sommer dadelik “ontaard” in iets groters en die res is geskiedenis. 
 
Hy het diep spore in die lewens van ons jongmense getrap, maar ook gou in ons almal se harte ingekruip.  Ons gaan sy liefde, grappies, saam eet en kuier, sy hart vir musiek en passie vir Jesus beslis mis.  Ook Alet se diensbare hande, warm glimlag en lekker kos gaan verseker gemis word.
 
Ons sê tot wedersiens, maar is saam met hom opgewonde oor die toekoms, vir hulle daar in Houtbaai, maar ook vir die Here se plan vir Doornpoort wat besig is om te ontvou!
 
Kom kuier Sondag saam!
 
PS. Sondagaand hou ons vir die jongmense ‘n massiewe Praise & Worship van 18h00 af vir ons Jeugdiens kwartaalafsluiting! Kom sing en spring saam!


Gemeenskap Skoonmaak

Die Groet Jou Bure Bediening nooi jou uit om môre oggend 27 Mei om 07h30 vir 08h00 te kom deelneem as ons, elkeen bewapen met ‘n swartsak of twee, saam Doornpoort se strate invaar om ons gemeenskap skoon te maak.
 
Ons wil graag ‘n sigbare verskil in ons gemeenskap maak en môre is ‘n eerste tree in daardie rigting.  Ons glo dat hierdie aksie weer op sy beurt kan deure oopmaak vir ‘n volgende aksie en dat ons ons gemeenskapsbetrokkenheid net wyer kan uitbrei. So kan ons volhoubare, langtermyn projekte bou wat werklik die gemeenskap kan beïnvloed en vernuwe. Maar ons moet iewers begin.
 
Daar is ook, sommer vir die lekker, twee fliekkaartjies vir môre aand se fliekaand te wen vir die persoon wat môre oggend die meeste rommel kan optel.
 
Sien jou daar!


Hemelvaart, Fliek en Pinkster

Onthou die volgende 10 dae (die laaste 10 van ons 40 Dae!) gaan ons lekker baie by mekaar kuier.
 
Vandag 25 Mei om 19h00 kom ons bymekaar om Hemelvaartdag te vier.
 
Saterdagmiddag 27 Mei begin ons al van 15h00 af saam kuier en braai. Om 18h00 eet ons lekker en 19h00 begin ons die fliek “Risen” kyk.  Moenie dit mis nie! Bespreek jou kaartjies by Nicolene – 012 547 1456 of skriba-ngd@lantic.net
 
Sondag 28 Mei is ook die begin van ons Pinksterreeks.  Dan het ons Maandag, Dinsdag en Woensdag elke aand 19h00 Pinksterdiens.  Kom kuier saam rondom ‘n koppie sop.
 
Pinkster en ons hele 40 Dae se groot finalé is dan op Pinkstersondag 4 Junie!
 
Hoop om jou by al hierdie geleenthede te sien!


Braai en Fliek 27 Mei 2017

Op die 27ste Mei gaan ons weer lekker saam fliek, maar die keer is dit nog lekkerder want ons gaan ook BRAAI!
 
Kom kuier saam van 15h00 af so om die braaivleisvure.  Om 18h00 sit ons aan om te eet (lekker aan tafel binne-in die kerkgebou) en 19h00 begin die fliek
 
Die kaartjies kos R20 per persoon.  Ons verskaf die vuur, die pap en sous en die fliek.  Bring jou vleis, koeldrank en eetgerei saam. En dalk ‘n lekker kamp stoel om op te kan sit langs die vuur (mens moet mos gemaklik kan sit!).  Daar sal ook popcorn en koeldrank te koop wees.
 
Die fliek wat ons gaan kyk se naam is “RISEN”.  Dit vertel die storie van Jesus se opstanding vanuit die Romeine se oogpunt, wat probeer bewys het dat Hy nie werklik opgestaan het nie, maar dan natuurlik in is vir ‘n groot verrassing!
 
Hieronder is die voorprent van die fliek.
 
Maak seker jy boek jou kaartjies betyds by die Kerkkantoor sodat ons kan sekermaak daar is genoeg van alles!
 
Sien jou daar!
 


Paasnaweek 2017

Paasfees is om die draai en ons wil dit hierdie jaar weer op ‘n spesiale manier vier.
 
Donderdag 13 April om 19h00 herdenk ons die Laaste Avondmaal met Nagmaal en “Vissie en Broodjie”-ete.  Elke gesin bring ‘n Vis- of Broodgereg en eie eetgerei.  Dan pak ons al die kos op ‘n lang tafel en almal eet lekker saam.  Ons vier dan ook so aan tafel saam Nagmaal en onthou die gebeure rondom die instelling van die Nagmaal en die Lydenspad van die Here Jesus.
 
Sondag 16 April kom ons reeds om 06h00 die oggend bymekaar om die Opstanding van die Here te vier.  Elkeen bring sy eie Piekniek Ontbyt en ons eet saam terwyl ons die sonsopkoms aanskou.  Ons Oggenderediens op Paassondag is dan direk na ontbyt om 07h00.
 
Ons sien uit om hierdie spesiale tye saam met jou te deel!


Ons nuwe Leef Anders Gholfhemde

Bestellings is nou oop vir ons nuwe NG Doornpoort, Leef Anders Gholfhemde.  Kom pas Sondag een aan en bestel joune so gou jy kan, dan dra ons een van die dae almal “Sout-vir-die-Aarde”-Spandrag!
 
Groottes sluit strek van Small tot 5XL en die kostes beloop R160 per hemp.
 
Bestellings sal nog ‘n rukkie oop wees, maar ons wil so gou moontlik dit finaliseer sodat ons almal ons hemde na die April skoolvakansie al kan hê.
 
Hier is hoe dit links voor geborduur gaan wees:
 
En dan op die Regtermou:
 
Leef Anders!


Gemeente-Ete 12 Maart 2017

Hier in Doornpoort is ons eintlik maar ‘n vreterige klomp – ons hou van saam eet en saam kuier! Maar nie net omdat ons hou van lekker kos nie, maar omdat ons weet wat aan die tafel gebeur.  Dit is daar wat ons bietjie nader aanmekaar kan kom, verhoudings bou en werklik liefde (en nie net slaai nie!) met mekaar kan deel.
 
Hierdie Sondag dek ons weer die tafel, juis vir daardie rede.  Ons kuier al van na die oggenddiens af saam en dan skep ons so teen 11:30 op. Dan is jy vroeg by die huis vir daai “Magie-vol-ogies-toe”-oefening.
 
Elke gesin bring ‘n gereg (net genoeg vir jou gesin, jy hoef nie vir ‘n army kos te maak nie!) en dan pak ons al die kos op ‘n groot tafel en almal eet saam van alles – en dan bly daar gewoonlik nog oor!
 
Dit kan regtig enige gereg wees wat vir jou lekker is (dit hoef nie net lasagne te wees nie!) en bring sommer die resep ook saam dan ruil ons sommer idees ook uit.  Pastas, bredies, paptert, boboties, enige ding. Of ‘n lekker slaai kan ook werk.  En as jy eerder van die soetgoed hou sal ons mos nie kan nee sê vir daai lekker Sondagmiddagpoeding nie!
 
Ons sien uit om saam met jou te kuier. Sien jou daar!


Bedieninge, Aswoensdag en Poeding

  • Ons eerste bedieningsontmoetings vind hierdie week en volgende week plaas:
28 Februarie
18h30 Ruik ‘n Blom
19h00 Groet jou Bure
 
6 Maart
18h30 Buig jou Knieë
19h00 Plant ‘n Boom
 
7 Maart
19h00 Dek die Tafel
 
  • Aswoensdagerediens Woensdag 1 Maart om 19h00.  Kom word saam stil wanneer ons die Lydenstyd begin en saam nadink oor die lydenspad van ons Verlosser.
 
  • Hierdie Sondag 5 Maart is daar weer Poedings te koop – so reg vir daar soetdekseltjie na Sondagmiddagete.
 
  • Volgende Dinsdag 7 Maart is daar om 18h30 Doopkursus vir ouers wat hulle kinders in April en Mei wil laat doop. Registreer asb. by die Kerkkantoor.


Bring jou “Disks” saam!

Onthou hierdie Sondag maak ons klaar met ons reeks oor ons bedieninge.  Bring jou 5 “disks” wat jy nou al die afgelope paar weke bymekaar gemaak het Sondag saam dan kan ons sien hoe die dinge dan nou bymekaar kom.  Hoop jy is so opgewonde soos ek oor al die bedieninge en is reg om aan die werk te spring!
 
Onthou ook volgende Woensdag 1 Maart om 19h00 het ons ‘n erediens ter herdenking van Aswoensdag wat ons dan ook inlei en voorberei vir Lydenstyd met die oog op Paasnaweek. Moenie dit mis nie!
 
Sien jou Sondag!


Nuwe Lidmate

Alle Nuwe Intrekkers (en ander belangstellendes!) ons wil jou en jou gesin verwelkom en julle graag uitnooi om ons Nuwe Lidmate Bekendstellingskursus te kom bywoon.
 
By volgende Woensdag 22 Februarie se ALS-byeenkoms om 19h00 wil ons graag ons nuwe lidmate verwelkom en so bietjie op ‘toer’ vat deur die binnewerke van die gemeente. 
 
Dit is vir ons belangrik dat jy hier tuisvoel en geliefd voel en daarom wil ons so bietjie met jou skouers skuur en saam met jou kuier.  Maar ons wil ook hê dat jy moet jou voete behoorlik vind in die gemeente en weet waar, hoe, wie, wanneer en wat aan die beweeg is sodat jy die regte knoppies kan druk as jy dit nodig kry, maar ook kan weet waar jy jou gewig kan ingooi en jouself regtig kan uitleef!
 
Jy is nou deel van die Doornpoort Familie – kom kuier saam met ons!
 
Hoop om jou daar te sien!